Welkom!

Dalk kuier jy hier omdat jy moeg is. Dalk voel jy niemand verstaan nie. Ek weet waarvan jy praat! Ek was daar! Kom kuier net so rukkie hier by my want al weet ek nie wie jy is, wat jou omstandighede is, ek weet hoe jy voel!

Hallo my vriend/vriendin

Die feit dat jy hier op my blad kuier beteken een van twee dinge, of jy oorweeg om selfmoord te pleeg of jy soek hulp met iemand wat dreig om selfmoord te pleeg. Indien jy hulp soek met iemand wat dreig met selfmoord wil ek dit noem dat jy dit nooit moet ligtelik opneem of dink so iemand sê maar net so om aandag te kry nie. Dit is werklik ernstig.

Maar hierdie bladsy is ongelukkig vir my vriend of vriendin in nood!

So die feit dat jy hier is beteken een ding : jy voel jy het genoeg gehad, jy kan nie meer aangaan nie en jy soek `n manier uit. Ek is nie vir een oomblik hier om jou te probeer stop nie. Ek gaan jou nie vertel dat jou keuse verkeerd is nie maar ek kan vir jou vertel dat ek verstaan. Dat ek die pyn waarin jy nou is ken want ek was self daar, en nie baie lank terug nie.

Ek wil jou egter vra om net so rukkie hier by my te kuier en verder te lees. Ek is nie `n sielkundige, `n berader of enige profesionele persoon nie, ek is bloot iemand wat omgee. `n Mens net soos jy wat ook deur hierdie emosies moes veg. Wat ook gevoel het dat die pyn net te ondraaglik raak. Ek sou werklik waar net nou langs jou wou sit om `n koppie koffie en persoonlik met jou gesels, maar dit kan nie nou werk nie. So kom ons drink `n koffie, net hier saam en kuier soos vriende wat mekaar verstaan.

Hierdie is ook nie `n maklike 5 punt plan nie want niks oor die plek waar jy nou is is maklik nie.

So kuier jy nog so bietjie saam met my? Great!

Ek het een keer gelees dat iemand sê “Selfmoord is nie noodwendig iets wat ons kies nie maar eerder `n plek waar ons pyn alle hulpmiddels tot ons beskikking oorskry”. Dalk het jy al alles probeer en het dit nie gewerk nie. Ek weet waarvan jy praat! So daar is twee puntjies van hoop: of jy moet die pyn op een of ander manier minder kry of jy moet jou gesonde hulpmiddels verhoog.

Ek het vir jou `n paar dinge wat ek ook graag wil noem:

  1. Gee jouself net `n bietjie afstand. Onderneem, hier en nou om NET 24 uur te wag met jou besluit. Of dalk `n week…. Jy lees alreeds `n minuut of twee hieraan en het ook gaan Google, so wat is net nog 24 uur?
  2. Mense pleeg selfmoord om verligting te kry van die pyn waarin hulle is. Maar besef jy dat as jy selfmoord pleeg sal jy nie daardie emosie van pyn verligting ervaar nie?

Ek weet nie hoekom jy voel soos jy voel nie. Ek gaan ook nie probeer maak asof ek alles verstaan nie. Wat ek jou wel kan verseker wat ek verstaan, is alener as alleen, moedeloos, troosteloos, emosioneel asook heeltemal emosioneel afgestomp, verlate, lelik, moeg…. Al hierdie dinge ken ek en as jy daar is het ek een woord vir jou : Welkom, en jy is NIE alleen nie!

Mag ek so bietjie meer oor myself deel? Sonder om in te veel detail in te gaan. Ek was ook op die punt waar alles te veel geraak het. My finansies, of tekort daarvan het krisis geword, daar was n dreigende swaard van werksverlies oor my gewees, my huwelik het semi uit mekaar geval en ek self het redelik uitmekaar geval. Ek moes del met `n geskiedenis van molestering en verkragting asook baie ander goed wat daarmee saam gaan. My planne was in plek gewees. My briewe was geskryf gewees. Ek het die dae getel tot ek alles klaar sal hê. En heel tyd het ek net gehoop vir een ligstraaltjie, net een! Maar ek was op so donker plek gewees ek het niks lig gesien nie. Ek is `n gelowige, het ek gedink maar in hierdie tyd het ek gevoel dat selfs God van my vergeet het.

My vriend/vriendin, dalk dink jy nou dat jy nie verder wil lees nie, ek moedig jou aan, kuier nog so rukkie saam met my. Dalk is jy nie `n christen nie, dalk glo jy nie in God nie, dit maak nie hier saak nie want dis JY wat vir my belangrik is, nie wat jy glo nie!

Vir my persoonlik was my verhouding met God een van die dinge wat my deur getrek het en van plan verander het maar ek verstaan daardie gevoel waar jy kom wat jy selfs deur God verlaat voel. Dat jy voel dat selfs Hy van jou vergeet het.

Voel jy dalk ook so? Is dit dood binne in jou? Gee jy net nie meer om nie? Ek gaan jou nie vertel van die mense om jou wat lief is vir jou nie. Jy weet dit en as jy is waar ek was dan sal dit in elk geval nie meer saak maak nie. En weet jy wat? Bitter min mense verstaan dit. Mense sê iemand wat selfmoord pleeg is lafhartig en dink nie aan ander nie. Hulle is in n mate reg en verkeerd. Ons dink aan ander, heel tyd, maar dis of dit net nie saak maak nie. Voel jy ook so?

Ek het geleer om my emosies op papier uit te druk. Hier is `n strofe uit een van my gedigte:

Donkerte en nag is oral oor

Dis dit wat jou in jou hart deerboor

Wat jou pynig en dan vir jou staan en lag

Terwyl die naarheid op jou wag.

Geraamte, droee bene, kaal

Wat die waarheid nooit uit jou sal haal.

Twee boksers veg voort om jou siel

Wat voor die donkerte neer wil kniel!

Vergeet van `n lewe, vergeet van lig

Verwyder hul uit jou sig!

Nooit weer sal daardie lig kan skyn

Terwyl jy in geheimsinnigheid weg wil kwyn.

 

Klink dit dalk vir jou bekend? Is dit dalk ook hoe jy voel? Ek wil jou vertel daar is hoop! Ja, ek weet dis die laaste ding wat jy wil hoor.

Kuier jy nog saam my vriend / vriendin? Want ek wil so graag lekker saam met jou kuier! Al is dit net vir nog so rukkie.

Die gedig hierbo is nog een van my ligter gedigte. Ja, daar is meer wat baie meer praat oor die pyn en oor die seer hier binne. Daai pyn wat maak dat jy voel of jy jou bors wil oop ruk en dit net uithaal. Daai pyn wat niemand verstaan. Wat jou naar maak, wat jou laat huil en soms so met woede vul. Ek was daar! En weet jy, ek is nog nie heeltemal daaruit nie maar dit gaan al beter. Ek glo jy weet waarvan ek praat?

Ek ken nie jou storie nie. Ek ken nie jou persoonlike pyn nie. Maar ek weet ek gee om. Ek weet dat jy iemand is wat `n storie het om te vertel! Ek weet dat jy iemand is wat die moeite werd is om gehoor te word! Jy is so so kosbaar, Al voel jy nie nou so nie. Een besluit kan so baie mense om jou se lewens onherroeplik verander. Een besluit van jou kant af. Maar die regte besluit kan ook soveel lewe bring. Maar my vriend / vriendin, dit is steeds jou eie keuse om te maak!

So jy mag dalk wonder wat het my op die punt gebring waar ek dit oorweeg het. Elkeen van ons het ons eie pakkie om te dra. Vir ons afgemeet, dit wat ons kan hanteer. Jou seer is nie minder seer van myne omdat dit verskil nie. My hel is ook nie meer as jou hel omdat daar dalk meer in my lewe gebeur het nie. Elkeen van ons het ons pakkie om te dra elke dag en soms kyk ons na ander dan besef ons ons pakkie is nie so swaar nie. En soms kyk ons na ander en wens ons pakkie was so lig gewees. Maar ons dra steeds aan ons eie pakkie.

Ek gaan jou werklik nie verveel met my storie nie. Dit kan jou dalk net nog erger laat voel, ha ha. Ja ek kan nou al effe daaroor lag ook! Maar wat ek wel met jou kan deel is dat ek ervaring het van jarelange intense verwerping, om op te groei met `n afwesige vader figuur, molestering vir jare, verkragting, selfmoord pogings, om nooit goed genoeg te wees, verwerping, verwerping, verwerping. Dit was die tema van my lewe. Ek was net nooit goed genoeg gewees nie. En dit het uitgekom in verskillende simptome : self mutalasie, swak of geen selfbeeld, emosionele afhanklikheid, teruggetrokkenheid. Ek het mure gebou om niemand daar in te laat nie. Enigste probleem is met die mure waar niemand kon in kom nie, kon ek ook nie uit kom nie. En dit het my net nog alleener gemaak. Dit het my net meer en meer geisoleer laat voel. En as daar iemand was wat dalk wou help het ek sulke hoë verwagtinge aan daai persoon gaan stel dat hy nooit daarby sou uitkom nie. En dan het ek myself vertel ek is maar weer nie goed genoeg nie.

Ek hoop jy kuier nog saam my vriend / vriendin want al wat ek eintlik wil sê is dat jy is nie alleen nie. Ja jou storie is uniek, dit is jou deel vir jou afgemeet. Ek gaan dit nie probeer groter of kleiner maak nie. Maar dink jy nie dit sal die moeite werd wees om eendag jou storie ook te kan oorvertel nie? Want weet jy, ek glo jy sal hierdie kan oorwin. Ek het en ek probeer dit steeds elke dag doen. Ek is nog hier, selfs ten spyte van alles wat gebeur het.

Kan ek nog iets uit my geskrifte met jou deel?

Ken jy dan die stem van alleen

Die stem in die wind se alleen geween?

Weeskind, vuilkind, uitgewerp

Jy het tog nie geglo jy is sterk?

Want in die lewe hardloop jy met mense om jou rond

Maar woorde trap jou elke keer in die grond

Kierang kierang moeg gehuil

Terwyl jy onder modder skuil

 

Ek het gevoel soos niks. Ek het gevoel ek is heeltemal alleen. Dat niemand meer omgee nie, selfs nie eers die God wat ek dien nie. Mense se woorde het so sneer gesny. Hulle verstaan net nie! Hulle wil my net nie uitlos nie! Hulle maak of hulle weet waardeur ek gaan, maar hulle doen nie!

Voel jy ook so my vriend / vriendin? Wel ek kan net weereens vir jou sê : Ek ken nie jou storie nie maar ek weet hoe jy voel, dalk nie heeltemal nie maar tot n mate.

En nou kom ons by die brawe deel. Ek vra dat jy my net vir nog so rukkie sal uithoor? Daar is lig aan die einde van die tonnel. En nee dis nie `n trein wat oppad is of die duiwel met `n torch nie! Dit kan beter gaan met jou. Dit is regtig nie die moeite werd om alles te beeindig nie. Nee wag nou! Asseblief, lees net nog so stukkie aan. Ek gee om vir jou en daarom wil ek met jou gesels oor een woordjie : hoop! My vriend / vriendin, ek gee regtig om!

Jy is so baie werd! Daar is mense wat ongelooflik lief is vir jou! Mense se lewens sal nie dieselfde wees sonder jou nie, al voel jy dalk nou hulle sal beter af wees sonder jou. Weet jy, hulle sal nie. Elke verjaardag, elke Kersfees sal `n herinneringe wees aan jou plek wat leeg is! Elke jaar sal die verlange steeds daar bly want jy is so ongelooflik spesiaal!

Kuier ons nog saam? Want ek is jou vriend! Ek moet jou ook die waarheid kan vertel! Ek moet jou vertel dat daar werklik hoop is vir jou! Ek het dit ook nie geglo nie! Ek het ook nie gedink my lewe kan verander nie, maar dit het! Het my finansieele krisis verander, nee? Het my werksituasie verander? Nee! Het my huwelik verander? Wel ek werk aan daai een. So wat het dan verander? Ek. Ek het verander want ek het besef ek is wel die moeite werd! Ek het agtergekom in hoeveel mense se lewens ek `n verskil gemaak het!

Daar is die verhaal van `n tribe in Afrika waar, wanneer mense in `n kriminele daad gevang word, hulle in die middel van die dorp gesit word. Nie om gestenig te word nie maar om vir n volle 24 uur deur die res van die tribe vertel te word oor al die goeie dinge wat daai persoon al gedoen het. “Jy het my kind uit die water gered” “Jy het my hond vir my terug gebring” “jy het my lewe gered”
“jy het vir my kos gegee toe ek honger was”. Daai is dalk net `n paar simpel voorbeelde maar al hierdie positiewe goed hoor daai persoon vir n hele 24 uur lank.

So waarom vertel ek dit vir jou? Want ek dink net soos ek het jy nodig om `n paar positiewe dinge oor jou lewe te hoor:

“Jy is spesiaal”

“Jy is iemand se droom”

“God is ongelooflik lief vir jou”

“Daar is drome oor jou lewe gedroom”

“Jy is geliefd”

“Jy gaan `n gat los waar jy in die lewe hoort”

“Ek gee om”

“Ek gee om”

“Ek gee om”

“Ek gee om”

Ek hoop jy hoor my hart. Ek doen hierdie omdat ek omgee vir jou! Omdat jy so spesiaal is! Omdat jy soveel het om vir die lewe terug te gee! Omdat jou plek leeg gaan wees en niemand dit sal kan vul nie! My plek sou leeg wees en ek sou nie hierdie vir jou kon skryf om jou net so titseltjie hoop te gee nie! Het jy darm so effens hoop?

So wat het ek gedoen om hier uit te probeer kom. My eerste stap was gewees dat ek met iemand wat ek vertrou het gaan gesels het. `n Geestelike leier vir wie ek baie respek het. Hy het my egter ook verwys na `n sielkundige. En nee, dis geen skande om `n sielkundige te gaan sien nie! As jou been gebreek is gaan jy vir gips, as jou blindederm wil bars gaan jy vir `n operasie. As jou siel nie gesond is nie gaan sien jy iemand daarvoor! En ja ek is ook op medikasie want ek het besluit hierdie lewe is die moeite werd om voor te veg! Hierdie lewe gee my nog `n kans. En ek wil nie meer dood wees nie, ek wil nie meer bestaan nie, Ek wil LEWE!!!

Wat my ook baie gehelp het was om my emosies op papier te gaan sit, of eerder op my keybord. So as jy voel jy wil met my deel or jou struggle doen dit gerus! Gaan ek dit lees en reply? Weet jy, ek sal probeer! Ek weet nie of ek sal reply nie maar ek sal werklik probeer om dit te lees want jy is SOOOOO Spesiaal!! Ek fight ook steeds my fight ook en is verseker nie `n profesionele persoon wat onaangeraak gaan bly deur jou brief nie! Nou hoekom dit dan stuur? Sien dit as `n epos na hoop, na iemand wat luister, al is dit net om van daai emosies ontslae te raak.

Ek sê weer: Jy is vir my alreeds so spesiaal want ons fight dieselfde fight! Ek identifiseer met jou en ek identifiseer met moedeloosheid en met pyn!!

My vriend/ vriendin, as jy tot hier saam met my gekuier het is ek vreeslik bly! Dit wys my dat daar nog `n stukkie in jou is wat wil bly lewe! Dit wys my ook jy is `n fighter!

Gun my een laaste keer iets van my eie gevluelde woorde:

Fluister, fluister, val

Kom U liefde met `n knal

Vasgedruk naby U snik ek

Die pynwoorde wat my gesig wil vertrek

En ek besef U was die heel tyd nog hier

Selfs in my donker doodse uur

Toe ek alleen moes veg

Teen verkeerd en teen reg.

Neem my nou net in U arms, tel my op

Lig U weer op hierdie suwwe kop

Suf gedink, suf gehoop, moedeloos

Wat ek nou in U arms kan kom troos

En ek besef, ek was nooit alleen

Dit was ek, die stiksiende een

Wat U nie wou sien, U nie wou voel

Maar nou is ek by U, so bedoel.

 

Daar is hoop! Daar is lewe! Waar `n wil is, is `n weg! Jy KAN! Jy is `n wenner!

Ek vra weer dat jy tog jou besluit sal uitstel vir net `n dag, of `n week! Ek wens so ek kon nou daar wees om jou net `n druk te kon gee! Asseblief, asseblief, help my ook deur dit nie te doen nie want dit sal wys dat dit wat ek hier probeer doen het deur met jou my storie te deel nie verniet was nie. Dat ek ook bly lewe het met `n doel! Dat ek ook nog n purpose het!

Dankie dat jy saam gekuier het hier en ek wag om daai mail in my inbox te sien in kom!

Met al my liefde

Jou Vriend

 

http://www.sadag.org/

Befrienders:

Hotline: 051 444 5691

befriend@iafrica.com

Carelinecrisis:

031 765 1587

http://www.carelinecrisis.org/

Lifeline

0861-322-322

www.lifeline.org.za

.Childline:

08000 55 555

www.childline.org.za

SA Depression and Anxiety Group

0800 567 567 or SMS 31393 (8am – 8pm, seven days a week)

www.sadac.org