Artikel : Wanneer jy die stryd teen jouself verloor

Wanneer jy die stryd teen jouself verloor

Moira-Marie Kloppers het na aanleiding van Chester Bennington, hoofsanger van die groep Linkin Park, se selfmoord ʼn artikel geskryf wat ʼn bietjie uit ʼn ander hoek lig op die kwessie werp. Hierdie is ʼn artikel vanuit ʼn depressielyer se oogpunt, iets wat mense dalk ʼn kykie gee in die wêreld waarin depressielyers leef.

“Is jy orraait?”

Orraait? Ek? Nee. Ek kan nie meer nie. Wil nie meer nie.

Ek is bang. Ek wil so graag vir jou sê hoe ek voel. Hoe aaklig ek voel. Maar ek is bang ek maak jou bang. En dan hardloop jy dalk weg. Want wat as jy niks met my te doen wil hê as ek jou wys hoe die oorlog binne-in my kop lyk nie? Ek wil so graag hê jy moet vir my sê alles gaan oukei wees. Wat maak ek as jy my nie glo as ek jou in my vertroue neem nie? Gaan jy dink ek is besig om aan te sit? Besig om aandag te soek? Wat as ek jou deel maak van die veldslag? Jou seermaak? Jou ontstel? Ek is so moeg. Vir alles voel. Vir niks voel nie. Eintlik wil ek net ophou wees. Sal jy my ooit weer dieselfde sien as ek jou die waarheid vertel?

“Ja dankie, net ʼn bietjie moeg.”

Die musiekwêreld en sosiale media is aan die gons oor die hoofsanger van Linkin Park, Chester Bennington, se selfmoord op 21 Julie 2017. Kyk ʼn mens na die reaksies op die nuus op sosiale media, is daar baie wat “geskok” is. Wat sê “hulle kan dit nie glo nie”. Dit is so “onverwags”.

Maar is dit so? Is dit nie dalk net dat niemand ooit geluister het nie? Dat niemand sy hulpkrete gehoor het nie? Of as hulle het, net te ongemaklik of onkundig gevoel het om te probeer help? Of dalk het die mense naby hom net gewoond geraak daaraan en dáárom gedink alles is orraait?

Selfoorlog

Bennington praat in ʼn radio-onderhoud wat op sosiale media gedeel word, sonder om enige doekies om te draai, van sy innerlike stryd. Hoe hy, alleen binne-in sy gedagtewêreld, telkens teenoor homself stelling inneem:

“When I am in my own head … this place inside my head is a bad neighbourhood and I should not be in there alone. I can’t be in there by myself. It is insane. It is crazy in there. It’s a bad place to be by myself … there is another Chester in there that wants to take me down…. If I am not actively getting out of myself and being with other people. Like being a dad, being a husband, being a bandmate, being a friend. When I am out of myself, I am great. When I am inside all the time, I am a mess.”

Bennington verwoord wat so baie depressielyers elke dag doen: Hulle leef vir hul werk, vir hul gesinne, vir hul vriende. Enigiets behalwe hulself. Want die dag wat jy op jouself fokus – inkyk na binne, neem jy stelling in teen jouself. Jy peper jouself met skuldgevoel, minderwaardigheid en ʼn verskriklike donkerheid. Die geraas van die oorlog in jou kop, die negatiewe interne dialoog raak dikwels só oordonderend dat dit die werklikheid, die feite van die situasie, uitdoof. Jou gedagtes is in ʼn oorlog gewikkel. Jou persepsies totaal skeefgetrek. Maar dit vorm jou realiteit. Jou werklikheid. Rasioneel of nie.

Waarom kíés mense selfdood? Selfmoord? Mense kies dit, want hulle het hul innerlike stryd verloor. Dit het niks te doen met die dinge en mense in die buitewêreld nie. Dit is niemand anders se skuld nie. Jy hys eenvoudig die wit vlag. Eerstens om die oorlog wat dag en nag woed te beëindig. En tweedens om in beheer te voel van iets. Om te lewe is om totaal sonder beheer te wees. Om te sterf is om beheer te neem.

Wipplankryers

Bennington beskryf ʼn siklus van beter voel, slegter voel, beter voel, slegter voel, waaruit mens nie kan ontsnap nie. Ek verwys daarna as wipplankry. Mense wat aan gemoedsversteurings ly (soos bipolêre, angs- en post-traumatiese stresversteuring of major depressie) is wipplankryers. Hulle sit op die punt van die wipplank en gaan op, af, op, af deur die lewe. Al die ander mense (met normale gemoedskommelings) sit in die middel van die wipplank. Hulle kantel soms bietjie op aan die eenkant en af aan die anderkant, maar is grootliks vry van die wipstoppe en die wilde oppe en affe.

Wipplankry het vier fases:

Die lekker op. Dit is die euforie van hiper-effektief wees, soms tot die punt van totale manie.

Die wipstop bó. Wanneer die op-momentum en -energie eindig en jy agterkom jy kan jou eie pas nie meer volhou nie.

Die vinnige af. Wanneer angs oorneem en die depressie laat vlamvat. Die skote begin klap in jou gemoed.

Die wipstop onder. Wanneer jy moet besluit om weer op te probeer beur, met die wete dat daar weer ʼn af gaan wees. Of oorweeg om die vlag te hys.

Wipplankryers voel die oppe en affe ook aan hulle lyf. Soms is dit slaaploosheid. Vir dae aaneen. Soms voel dit of jou longkapasiteit gehalveer is. Of as jou hartklop onreëlmatig is sodat jy daarvan benoud voel. Daar is chroniese hoofpyn wat nie deur pynpille verdoof word nie. Soms is dit maagpyn en naarheid, of spierpyne. En dan daardie oraloor-senuweepyn. Wanneer jy elke haar op jou lyf, elke sweetkliertjie op jou vel voel pyn.

Mense met gemoedsversteurings kies nie die wipplank nie. Hulle kies nie die op nie, nie die af nie, nie die angs nie. En hulle kan nie kies om saam met hulle geliefdes in die middel van die wipplank, waar dit kalmer is, te gaan sit nie. Hulle is eenkant en vóél eenkant.

Onsigbare en onaanvaarbare siekte

Mense hét depressie en hét bipolêre of een of ander gemoedsversteuring. Hulle is dit nie. Mense het kanker. Hulle is nie kanker nie. Hulle het hoë bloeddruk en diabetes. Hulle is dit nie. Soos kanker of diabetes is gemoedsversteurings ʼn siektetoestand in ʼn mens se brein. Soos alle ander chroniese siektetoestande neem dit dikwels lank om te diagnoseer en net so lank om onder beheer te kry. En elke pasiënt se behandeling moet pasgemaak word vir sy/haar omstandighede. En daar is altyd weer die moontlikheid van ʼn terugslag. Wat dit vir mense met gemoedsversteurings moeilik maak, is dat die simptome verwar word met hul persoonlikheid, hul karakter, hul identiteit en menswees. Jy kan nie die siekte aan hulle lyf sien nie. Daar is nie ʼn kaal kop, ʼn insulieninspuiting, ʼn Medi-Alert-bandjie wat die siektestryd identifiseer nie. Daar is wel woedeuitbarstings, oordonderende emosies, irrasionele gedrag en angs. En daarom is daar oordeel. En oordeel sit die oorlog weer aan die gang.

Wat kon ek anders gedoen het?

Onthou. Moet jouself nooit blameer as jou geliefde die afklimpad kies nie. Sy of haar stryd was nie met die wêreld of met jou nie, hoewel die oorlog in sy of haar kop soms uitgespoel het na buite. Die stryd was met hom- of haarself en hy of sy het verloor. Was dit ʼn selfsugtige keuse? Nee. Dit was ʼn desperate keuse. ʼn Irrasionele keuse. Maar op daardie oomblik wat dit die enigste keuse wat hy of sy kon sien.

Hoe ondersteun ek ʼn wipplankryer?

Hoe moeilik dit ook al is, probeer onthou dat daar ʼn verskil is tussen ʼn persoon se identiteit en karakter en die simptome van sy of haar siekte. Dit is ʼn baie moeilike pad vir geliefdes, want die lyn tussen die simptome en doelbewuste swak gedrag is soms baie vaag. Moet egter nooit ophou vra: “Is jy orraait” nie. Vra ʼn tweede en derde keer: “Is jy regtig orraait? Wil jy gesels? Ek wil jou graag hoor en jou ondersteun. Jy is belangrik in my lewe. Moenie bang wees nie. Ek is hier vir jou. Kom ons maak saam ʼn plan.” Bevraagteken sy of haar denkpatrone. Maak seker hy of sy hoor wat jý bedoel en nie wat hy of sy van hom-/haarself dink nie.

Dit is dalk net die verskil tussen opbeur en afklim.

Liewe Wipplankryer

Liewe jy? Die een onder op die puntjie van die wipplank? Onthou om vir ʼn slag by die vensters van jou oë buitentoe te kyk. Jy is vir maande lank al vasgevang daar binne. Kom uit jou kop en kom bly weer in jou lyf. Kom gebruik jou sintuie vir ʼn slag en voel hoe dit jou laat ontspan. Kyk na die bome, die takke, die blare. Die aarvingertjies van elk. Ruik dit. Maak jou longe vol daarvan. Voel dit tussen jou vingers. Hoor die voëltjies fluit. Die sagte bries. Raak bewus dat die wêreld van jou gedagtes, waarin jy vasgevang voel op die oomblik, nié die hele wêreld is nie. Spits jou ore. Luister fyn wat jou geliefdes sê. Maak stil die stem wat jou probeer vertel wat hulle bedoel. Laat hulle self vir jou sê. En kies om hulle te glo. Hulle het jou lief. Probeer ook om die geraas in jou kop lank genoeg stil te kry sodat jy Hom kan hoor. Hy het jou lief. Hy het jou gemaak: Goed. Baie goed.

Bron : http://maroelamedia.co.za/goeiegoed/wanneer-jy-die-stryd-teen-jouself-verloor/