Ek en my selfsug

So het ek by myself gesit en wonder vanoggend, is dit werklik die moeite werd om aan te hou veg vir n lewe wat my aftrek? Wanneer ek moeg op die bed neer sak, moeg baklei, moeg gestry, moeg geveg uit n donker gat? Want soms kom ons maar weer op daai slegte bekende plek waar ons nie eintlik wil wees nie.

En my vriend/vriendin die antwoord is steeds JA! Ek kyk soms terug oor die laaste paar jaar en ek sien die patroon. Ek sien al die op en al die af maar ek weet ek is vandag steeds beter af want daars mense om my vir wie ek iets kan beteken. Met baie self ondersoek het ek die afgelope tyd besef ek is eintlik selfsugtig. Ek kyk vas teen alles wat in my lewe aan gaan en my uitdagings, en ek besef nie dat die persoon langs my ook sy eie uitdagings het nie – uitdagings waarmee EK dalk kan help. Dalk het ek onlangs verby so iemand in die mall geloop en dalk daai desperate kyk in die oë misgekyk omdat ek so besig was met my eie issues. En weet jy, alles wat ons doen hoef nie monetere waarde omgeskakel te word nie. Ek en jy kan lekker sit en koffie drink in my kantoor ook. Ons kan daai gesprek hê iewers in n park. So baie keer die laaste ruk het ek net een begeerte gehad : iemand me wie ek kan praat wat net vir my kan sê : Jy gaan ok wees, jy gaan hier deur kom!

En dit maak my skaam, want senou maar net ek was die een wat daai woorde vir iemand anders moes gesê het. Baie van ons hier was al op die plek waar ons gehospitaliseer was met depressie of wat ook al jou eie unieke uitdaging is. En dan wonder ek by myself, hoekom gaan kuier ek nie net by iemand in die hospitaal nie? Ek hoef daai persoon mos nie eers te ken nie, maar ek ken sy/haar seer. Ek ken daai worstelstryd om aan te hou bestaan. Ek ken die lang pad van herstel daarna. En dan raak ek omgekrap met myself, want ek sit in my eie hoekie, my eie bondeltjie terwyl daar iemand daarbuite is wat dalk net MY nodig het om vir hulle te sê : Byt vas, jy gaan OK wees!

Wat is daar wat jy vir ander kan doen? Wat van vir oumense in n ouetehuis gaan kuier? Daardie mense wie seeie kinders hulle weggegooi het. Wat van by n sopkombuis gaan uithelp? Daar leer ons wat dit werklik beteken om niks te he nie. Of wat van sommer net bid vir mense wat deur dieselfde as ons gaan? Dit gaan dalk die aandag so bietjie van myself aftrek.