Gedig – Job

Soms dink ek as daar een persoon is wat ek in die Bybel `n paar vrae sou wou vra dan was dit Job. Hierdie het ek na aanleiding daarvan geskryf.

Job, O job jy inspireer my so

Al lê jy en kyk na die aasvoëls daar bo.

Want jou geloof was so sterk, jou anker vas

Al het alles wat gebeur nie in jou doktrines ingepas.

 

Job o Job, het jy ook getwyfel aan Sy liefde vir jou?

Het jy ook gesukkel om aan te hou met vertrou?

Hoe het jy die seer deur gewerk?

Wat het jy gedoen om jouself te versterk?

Want jy het meer seer as die meeste van ons geken

Maar jy het op die einde tog die stryd gewen.

 

Job, o Job, het jy ook gevoel om sommer net op te gee?

Gewonder oor die snaakse kronkel weë.

Wat jou van rigting af wou gooi, jou onder wou kry

Hoe bly jy in sulke omstandighede steeds dan vry?

 

Job, o Job, jy inspireer en bevry my met jou lewens verhaal

Jy leer my om op te staan as ek vir geen besondere rede faal.

Om steeds nie die Here te blameer

Vir al die verkeerde dinge, die lyding, die seer.

Want jy het dit nie gedoen al kon jy ook

Jy het meer pyn as enige iemand ooit in jou lewenspyp gerook.

 

Job o Job, wat het jy verkeerd gedoen?

Het jy dalk ook die buurvrou afgeloer of `n ander vrou gesoen?

Mense glo mos altyd dis jy wat iets verkeerd gedoen het in jou lewe

As jy in seer gedompel na die swart kolk beginte swewe.

 

Job, O Job, was dit dan die moeite werd

Om als te verloor, selfs jou laaste perd?

Was dit die moeite werd gewees om die gespot te verduur

Van jou vriende, die naaste mense met hulle tonge van vuur

In sak en as het jy soms gesit

Maar steeds het jy aanhou bid.

 

Job, o Job, wat het ek dan gedoen om soos jy te voel?

Of is hierdie ook om my te toets, Is daar dus `n doel?

Antwoord my, gee my raad

Want ek is moeg gewonder, moeg gepraat.

 

Dankie Job, vanaand gaan ek beter slaap

Met jou verhaal wat my hartsnare raak.

Want ek kan identifiseer, ek kan verstaan

Van seer en verlies op jou lewensbaan.

Job o Job, thanx my pel

Want ek weet jy is ook deur jou eie hel!