God en vrye wil

God en Vrye wil

Ek het dit vroeer ook reeds genoem dat ek `n christen is. Ek is `n christen in my wese en ek glo daar is net een God wat my so lief gehad het dat Hy Sy enigste Seun vir my sondes laat sterf het. Klink nogal goed ne? Maar ek moet ook eerlik wees dat dit deel was van my grootste stryd. Want hoe kan so `n liefdevolle God wat ons dan oor hoor toelaat dat `n tienjarige seuntjie gemolesteer en verkrag word. Hoe kan `n liefdevolle Pappa sit en toe kyk hoe daar iets met sy kind gebeur en niks daaraan doen nie? Waar was God dan gewees toe al hierdie goed gebeur het?????

Ok, daardie vrae is vrea wat so baie deur my kop gemaal het en soveel skade in my verhouding met die Here, en meer, `n Pappa ingebring het. Dalk identifiseer jy met die vrae maar nie noodwendig met die liefdevolle God of Pappa deel nie. So hier is my opinie, en ek vra dat jy ook saam met my om hierdie tema so rukkie sal kuier?

Ons vergeet so baie wanneer ons seer het dat Efesiers praat van `n stryd wat ons het, nie teen vlees en bloed nie, maar teen die duisternis, die duiwel en sy demone as jy dan wil. Ons as mense is so geneig om, wanneer dit so sleg gaan en dinge verkeerd loop, selfs wanneer iemand sterf, om eerste te vra “Here, hoekom het U dit gedoen? Hoekom het U dit toegelaat?”. Maar ek dink soms is die vraag wat ons eintlik met woede moet vul, hoekom het die die duiwel met sy vuil vingers alweer kom steel? Ons kanaliseer ons woede heeltemal verkeerd!! Ons vlees is juis nie teen dit wat ons sien nie maar eerder dit wat agter die skerms gebeur!!! Maar eerder om kwaad te word vir `n vyand wat rond loop soos `n brullende leeu (let wel so rondloop want hy imitate net die Ware Leeu van Juda) en iemand soek om te verslind, raak ons kwaad vir die Een wat ons eintlik wil beskerm. Wil beskerm kan jy dalk vra? Jip, maar daar is iets wat tussen ons en daai beskerming staan. Hulle noem dit Vrye wil, of vrye keuse.

Kom ek verduidelik vir jou iets wat my oë laat oopgaan het daaroor en veral oor die vrye wil deel. Een dag het ek werklik `n stryd met die Here gehad, een van my tantrum skree sessies oor alles wat gebeur het, maar veral die molestering. Hoekom was Hy nie daar nie, het ek dit uitgekryt? Ek dog Hy is lief vir my??? Het dit ook bygekom. Toe ek stil raak en die emosies effe bedaar voel ek hoe die Here hier binne sag vir my sê : “Ek was daar, langs jou!. Ek het dit gesien en ek wou skree net soos jy nou geskree het!” Ek het stil geraak en weer sag gevra “maar hoekom het U dan nie gehelp nie?”

Die Here het my hierdie beeld gewys wat my in die laaste jare so baie gehelp het. Ek was in `n kamer gewees met geen deur. Voor my was hierdie dik vensters en ek kon dus sien wat buite aangaan maar ek kon nerens heen gaan nie. Dit was ok want ten minste kon ek sien wat buite aangaan het ek by myself gedink. Ek het gestaan en kyk hoe my seun buite op die gras baljaar so langs `n swembad. Hy het so lekker gespeel. En toe gebeur dit. `n Man kom na hom toe en begin hom rond ruk en rond gooi. En toe doen die man aan hom wat ek ook moes deur gaan as kind. Ek het van my kop af geraak daar binne!!! Ek het op hom geskree en hom probeer keer. Ek het die ruit probeer uitkap om by hom uit te kon kom om hom te gaan help!!!! Maar ek kon niks doen nie. Ek moes dit sien gebeur en my hart wou skeur vir my Seun, my oudste, my geliefde, oor wat hy moes deur gaan!!!!! Ek het toe met die Here gepraat oor wat gebeur het en die verduideliking het my verbaas laat staan.

Ek het gevoel hoe die Here met my praat en sê dat daardie verskriklike dik ruit is mense se vrye wil. Daardie vrye wil hou God uit ons lewens uit. En dis hoekom dit so dik was, selfs God kan nie daar verby kom nie. Sien, as dit nie vir daardie vrye wil was nie kon God eenvoudig gemaak het dat enige een aan Hom MOET glo. Hy kon dan SY wil op ons afgedwing het. Hy kon gemaak het dat daar geen dood was nie of dat daar nie slegte dinge gebeur het nie. Maar die realiteit is dat God mense soek wat Hom sal dien uit hulle eie vrye wil en doen wat hulle wil. Anders is ons maar net niks minder as `n robot wat iemand se wil uitvoer nie. Klink dit onregverdig? Nee ek dink nie so nie, want hoe anders sou ons as individuee kon voortbestaan? Met ons eie keuses, ons eie besluite ens.

Terug by die kamer. Die Here fluister binne my dat net soos ek van my kop af wou raak en alles moes aanskou, net so wou Hy ook van Sy kop af raak deur alles te aanskou! Hy het ook gehuil oor elke traan wat by my oë uitgekom het. Later het Hy ook gehuil toe dit so seer gemaak het maar ek `n vow gemaak het om nooit weer te huil nie! Maar daardie vrye wil, daardie dik ruit het gekeer dat Hy iets kon doen, het inderwaarheid Sy hande afgekap.

Na die tyd het ek ook besef dat soos ek nie vining genoeg uit daardie kamer kon uitkom toe daardie persoon se vrye wil breek om my kind te gaan help nie, saam hom te huil en hom net so styf vas te hou nie, net so het God ook dieselfde met my gedoen. Enigste verskil is, ek was so bitter oor die seer wat ek gedink het Hy toegelaat het dat ek dit nie ervaar het nie en hom weggestoot het.

So, dit bring dalk `n ander vraag, is God dan altyd in beheer? Weet jy my vriend of vriendin, ek dink nie so nie. Hy kan seker dinge bepaal en dit ten goede laat utwerk soos ons in die bybel leer, maar Hy is nie altyd ten volle in beheer nie. As Hy ten volle in beheer was sou Hy kon gekeer het wat met my, of jou gebeur het, en nie vrye wil `n kans te gegee het nie.

Dalk gooi dit jou teologie so bietjie deurmekaar, maar dit is my opinie. Ek glo steeds dat God alles beheer maar dat Hy nie noodwendig beheer oor alles het nie. Ek meen as Hy beheer oor alles gehad het sou dit beteken het dat Hy nie die liefdevolle Pappa is wat die Bybel ons van kom leer nie.

Dankie dat jy so rukkie na my opinie geluister het, Ek hoop dat dit iewers by jou sal aanklank virnd net om te weet dat ten spytre van wat jy dalk glo, Hy werklik die liefdevolle Pappa is.